Ontdek die Weskus met Cilla

Is julle almal in en julle gordels vas? Ons het met die laaste reis gestop in Velddrif  en nie heeltemal klaar gekuier nie.  Die foto is van die vissermanne en vroue wat die visnette herstel vir die vistreilers langs die kaai in Laaiplek. Dis ‘n kuns wat glo van geslagte oorgedra word. Julle moet asseblief ook onthou om die museum te besoek dis op julle pad na die kaai toe. Een laaste besoek voor ons uit Velddrif uitry moet ons gou eers stop by “The Village Market” vir hulle vars beskuit, koekies, wortelkoek en heerlike koffie. Koop gerus ook hulle organiese groente en slaai.  Mens ruik die aarde so aan die groente, soos spinasie, wortels, beet en dan die heerlike tamaties, komkommers en slaai. Die tamaties proe nog soos tamaties en lyk nie net soos ‘n tamatie nie. Ek raak skoon nostalgies as ek onthou hoe ons as kinders met die soutpot in die een hand en die ryp tamatie in die ander,  so gesels-gesels deur die tamatie lande geloop en eet het.  Ons was gemaan om net nie groen tamaties te pluk nie. Die geur van die grond was nog so aan die tamatie en dit het ons sommer met ons hempies of rokkies skoon gevee voor ons dit gebyt het dat die sop so spat. Dan eers weer bietjie sout gegooi en verder geniet. Ek wonder hoeveel mense het vandag nog die voorreg om dit te ervaar?  Nietemin, hulle het ook Handgemaakte kaas van ‘n lokale produsent, nog gemaak met die tradisionele vakmanskap van bekwame kaas makers.  As gevolg hiervan is die kaas dikwels meer ingewikkeld van smaak en verskeidenheid as massa geproduseerde kaas.  Maar laat ons nie te veel tyd mors nie want dit kan ‘n hele dag se kuier word.

Ons neem die R365 na Dwarskersbos,  links is ‘n nuwe behuisingsskema met die wit geverfde huise reg langs die see. Dis prentjie mooi.  Ons ry verby die Soverby area, wat jare lange geskiedenis het van vissermanne wat al vroegdag visvang of soos hulle dit genoem het “Dibbs” geneem het op plekkies waar hulle graag visvang.  Plekkies genaamd Rooirif, Mosselbank,Klein Mosselbank, Kleinrif, Ougat, Noupoort, Bakenbos, Uilbos om maar net ‘n paar te noem. Dis ‘n jammerte dat daar net ‘n bordjie is wat Soverby Lapa aandui, nou ‘n restourant, en geen indikasie dat jy eers verby al die vissers plekkies ry nie.  Ry maar stadig en julle sal wel afdraaipaaie  sien wat julle sal neem tot teen die see en die hengelplekke.

In my gedagtes hoor ek al die vissermanne se geskerts en hulle stories van die groot visse wat hulle al gevang het.  Die een vertel…Mevrou!!! Laat ek jou vertel, die laaste vis was so groot dat hy so een halwe meter lank was … en dit was maar net so tussen sy oë. Sy lyf..jojo…was drie dubbel die lengte.  Ons kon hom nie eettie, mevrou… glo vir my, ek sal nie lieg nie, daar was baie vis en ons was baie eters!   Nou ja , wie is ek om nou te stry met dit wat feite is…ek rig nou ‘n uitdaging vir toekomstige hengelaars om dit te kan klop. Stuur julle visvangstorie met die bypassende foto aan cilla@weskustravel.com.  Die storie met die meeste humor sal geplaas word met die  foto van die vis . Die storie moet julle eie storie wees of ingestuur word met die besonderhede van die oorspronklike eienaar. Die gelukkige wenner sal ‘n Geskenk Pakkie ontvang van Rusky Biscuits.

Met ‘n glimlag en die storie nog so in my kop, kom ons aan by Dwarskersbos.  Eers die ouer gedeelte van die dorp waar die eerste huise gebou is, en dit is opvallend hoe die bou style met die tyd verander het. Die Karavaanpark is ook naby die see en baie gewild by mense wat graag kamp.  Die nuwe gedeelte Kersbosstrand volg net daarna aan die linkerkant en daar is baie streng bou regulasies. om die atmosfeer van die dorp te behou.   Hier is ook  pragtige sakpas akkommodasie in Dwarskersbos met  pragtige Silverskoon strande.  Hier kom jy vir die lekker rustige vakansie want die pas is stadig en dis heerlik stil, die kiewiete en die skilpaaie gee die pas aan.   Die Kiewiet sal so parmantig voor jou motor draf om jou weg te hou van sy nessie af, en almal ry maar rustig en pas aan by sy pas. Die seevoëls baljaar op die strand.  Die Kormorante duik af vir vis en die robbe  speel en swem so tussen die branders.

Stop gerus by die Restourant en Delhi  on Main in die dorp en die Plaaslike Supermark  het meeste benodighede wat julle gaan benodig.  Koop ‘n oulike sonhoed of kuns benodighede in die klein besigheidskompleks, en daar is ook ‘n oulike antieke winkel met pragtige en besonderse geskenke. So  ‘n entjie uit die dorp uit,  vind jy die plaas Wamakersvlei met verskeie eenhede wat idillies is vir mense met kinders en honde. Die eenhede is omhein en dis baie veilig.

Oppad na Elandsbaai is die veld mooi en die ruimtes laat mens somtyds dink aan die Vrystaat. Maar hou ingedagte dat die see net loer oor die duin.  Die somers is maar droog en die wind kan jou skep soos Mary Poppins  op ‘n goeie dag. Ons Weskussers is al so gewoond aan die wind en aanvaar dit maar gelate. Die winters is heerlik en die aarde is nat en groen, dan kom die blomme en dis moeilik om te glo dat alles droog en vaal was.  Nietemin,  hier strek die strande lank uit en is spierwit, al die pad tot in Lambertsbaai en verder noord.

Net buite Dwarskersbos so 11km Noord is Rocherpan. Die pragtige reservaat met ryk voël lewe. Die water was oorspronklik opgegaar deur die boer Pierre Roscher om water vir sy vee te kan voorsien en sonder dat hy bewus was het hy ‘n natuurlike vlei gemaak en die voels het kom intrek. Dit is nou die broeiplek van 183 verskillende spesies. In 1966 is dit as reservaat geproklameer  Heerlike ECO- huisies waarin mens kan bly om net die stilte van die natuur te kan geniet. Die voëlryk area maak dit die ideale kuier plek vir voëlkykers van regoor die wêreld.

By die kruising moet ons besluit of ons nou  gaan regs draai na Aurora of links draai na Elandsbaai. Ons besluit toe vir eers dat Aurora ‘n lekkerte  is wat op sy eie gaan besigtig, word, so kyk uit na ons volgende kuier wat beslis eers in die mooi dorpie gaan wees. Daar is ‘n oulike Koffie winkel “Koekeloer en Koffiemoer” waar mens nie net vinnig kan by kuier nie, jy moet tyd neem want die pragtige eetstelle en antieke meubels uit ‘n  verlore tyd te geniet.

Ons draai links na Elandsbaai en omtrent een kilometer  verder moet ons eers stop en vertoef, want toe  ontdek ons die oulike “Skooltjie Padstal”.  Nou ja, dis net hier waar ons nou  eers gaan kuier vir ‘n hele rukkie.  Ons gaan al ons lekkernye vir die kuier in Elandsbaai hier aankoop. Met die instap, word ons gegroet met die reuk van vars pasteie, rakke vol ingelegde vrugte en souse.  Goeie koffie is ook te koop en daar loer lekker biltong vir ons. Nee, hier kan dit net lekker raak.

Ons sien uit om julle op ons volgende reis te neem. Voel asb vry om kommentaar te lewer en ons te vertel van oulike plekke wat julle besoek het of sommer dit wat julle beleef het met julle reis deur die Weskus. Ons sien uit om heerlik saam te kuier. Mooi loop.

 

Route