Kom reis saam in die Weskus, tussen blomme, berge, see en vriendelike mense.
Ek vra myself die vraag af waarom sommige mense hou van die Weskus streek en ander nie? Dis heel eenvoudige nie almal vind vreugde in dieselfde goed nie. Smaak verskil en ons kan nooit almal tevrede stel nie, maar ek glo na dié lusmakertjie gaan ek julle kan oortuig om met nuwe oë na die Weskus te kyk.
Klim in (julle hoef nie toebroodjies te pak nie, daar is genoeg plekkies waar ons heerlike eet en drink goed kan geniet) en geniet net die kuiertjie deur die Weskus.
Ons vertek vroegoggend vanaf Jacobsbaai, ‘n dorpie met ‘n eie geskiedenis en erfenis wat vertel van ‘n boereplaas wat geslagte in die familie was. Hier het die Mauritz skip gesink en so het ‘n stukkie strand “Moerie se baai” geword toe die volksmond dit moeilik gevind het om Mauritzbaai te sê. Hier loop die bokkies rustig en wei en mens moet op die uitkyk wees vir hulle asook vir die kiewiet wat sommer so ewe astrant voor jou motor inloop en jou remme toets. Daar jaag ‘n fisant sy wyfie, en dis ‘n vreugde, gemeet aan die manewales wat hy uithaal. Die “mongoose” loer eers voor hy die pad oorsteek, sy ouers het vir hom geleer van kyk links, kyk regs. Dis mooi. Die son kom laat op, want dis winter en die blommetjies het nog nie verskyn nie. Die lug is vars en die reuk van die grond na die reën is soos manna vir die siel. In die winter lê die mis somtyds laag oor die wêreld en moet almal baie versigtig wees, want sigbaarheid is min. Nietemin, is daar ‘n diep dankbaarheid in my gemoed oor dit wat ek kan beleef deur al my sintuie. Dis wat ek graag wil hê die toeris moet beleef wanneer hy die Weskus betree.
Op die R27 verby die plaas Buffelsfontein, staan die kameelperd op die bult, sy silhoeët groot in die oggend son. Ek vra myself af of ek al ooit op ‘n plek gebly het waar ek soveel verskillende ongewone gesigte gesien het oppad na ‘n bestemming? Die antwoord is beslis nee en ek ervaar daardie vakansie opgewondenheid. By die afrit na Darling, onthou ek dat ek moet uitkyk vir die blomme, maar dit was oorbodig want ek het nie nodig gehad om te soek nie. Voor my lê ‘n veld vol spierwit lelies. Ek het groot geword met die naam van Aarons Kelke, ‘n gepaste naam vir so ‘n statige blom.
Ek besluit om eers af te draai by Yzerfontein. Ek wil so graag inry, want dis so besonders mooi in die dorpie – maar plig voor plesier. Ek laat myself net ‘n koffie toe by die padstal in Yzerfontein en belowe myself dat ek die lekkerte sal uitstel tot die volgende keer wat ek in die area is. Die afrit na Darling is regoor die afrit van Yzerfontein en vir my altyd ‘n moeilike keuse as ek van die Kaap af ry. ‘Sal ek links draai in Yzerfontein of regs draai in Darling’ vir my siel bederf, goeie koffie. Ja, goeie koffie is ‘n verslawing. Nietemin, nou eers na Darling toe.
Terwyl ek deur Darling ry besef ek dat die Weskus streek darem die mooiste plek is en die warmte van die Weskus-mense val my weereens by. Die ontvangs is nie ”gemaak hartlik” nie maar “innig hartlik”. Die “Hoe gaan dit”? Word gevra met werklike belangstelling. So graag wil ek dit met almal deel… dit wat ek ervaar en sien, want dit raak al hoe skaarser soos mense swaarder trek aan die ekonomie en in pleks van kreatief raak, deur byvoorbeeld eie groente te plant of iets doen wat ‘n ekstra geldjie inbring, raak sommige mense bedruk. Maar hier in Darling, die mooi dorpie met die laning bome en oulike eetplekke is mense natuurlik kreatief. Hoe dan anders, met rolspelers soos Pieter Dirk Uys wat jare in die area was. Dit tref my dat die mense meer glimlag hier as in die stad. Die outjie langs die pad waai vrolik vir my en wys met sy duim omhoog, so te sê dis lekker hier en ek het vrede met die wêreld en al sy geite. Ek glimlag te danke aan Pieter Dirk Uys en sy teatrale politiek, maar weet ook agter dit skuil iemand wat baie diep besorg is oor die gemeenskap en die opheffing daarvan. Dis belangrik dat dit goed gaan met mense om hom, en soos die kunstenaar, Maartens, in Nederland, glo ek ook hy deel Maartens se spreuk van “Happy people make people happy”.
Langs die pad na Malmesbury toe op die R317, gly my oë so oor die velde en jy kan tot amper in Malmesbury sien. Trix Pienaar (Volksbesit), se stem gaan deur my kop waar sy op die Bokomo advertensie so deur die koring stap en sê… dis my Swartland die… met die kenmerkende gebrei van haar, en met so bietjie nostalgie en baie emosie. Jy kan die gevoel deur haar ervaar van diepe bekoring en so bietjie verwondering oor die koring om haar en die mooi wat sy sien. Die gevoel van die koringare deur haar vingers. Hoe lus raak ek vir die koring met botter en suiker, en ek vra myself die vraag af of mense dit nog maak vir ete, of het dit totaal uitgesterf saam met so baie volkstradisies?
In Malmesbury aangekom sien ek die ou historiese geboue met die mooi ou NG Kerk en dis soos balsem vir my gees, so ter herinnering van gister se dae toe waardes nog baie belangrik was en die mense se wortels diep gegrawe was in geloof en tradisie; waar gesinne nog tyd gemaak het vir mekaar. Tye toe mens nog kon inloop in die kerk en gaan bid het wanneer jy die behoefte gehad het. Daar waar jy die rustigheid ervaar het vir jou gees. Die argitektuur van die ou geboue maak my lus om ook so ‘n ou huis te koop en te restoureer. Tog, wonder ek oor elke huis en oor die stories wat elke huis sou kon vertel. Die landerye met die wingerd in die oggendson maak my dankbaar dat ek oë het om te kan sien. Die Olyf Boorde oppad na Riebeek kasteel is iets waarvan ek maar min kennis dra, maar soos baie toeriste, graag meer van sou wou weet. Die hele proses is vreemd vir my, asook die maak van kaas en ek onthou die seuntjie in die supermark wat gevra het hoe lyk die muis wat die kaas gemaak het. Sien, hy het darem gehoor die melk kom van ‘n koei, maar die kaas en die muis is sinoniem met mekaar. Ek weet daar is heerlike kaas in die kontrei en ek beplan om dit te soek, dis nou maar my swakheid.
Morreesburg met sy breë strate, herinner my aan tye toe die strate wyd was sodat ossewaens kon draai. Ek het natuurlik toe nog nie op die aarde gewoon nie, maar het baie geskiedenis gelees. Dis hier waar Een van die drie koring museums is ter wêreld, en die geskiedenis lui dat die hele dorp in 1879 op die plaas Hooikraal gevestig is. Op Neulfonteinskop is ‘n ou skeepskanon, of so lees ek, maar dis iets wat ek graag self wil by uitkom en sien. Hier is heerlike landbou-skoue wat ek glo vet pret moet wees, en ek kan al die kinders hoor gil terwyl hulle op trekker ritte geneem word. Daar is net iets aan ‘n landbou skou wat anders is as ander skoue. Die reuk van die veld, diere, braaivleisvure en sommer net die gesellige samesyn is uniek aan dit. Ai, verlange na verlore tyd van veeveilings en rond klouter tussen die geboude krale. Sjoe, nou voel ek my ouderdom – dink ek so by myself terwyl ek aanry na Hopefield.
Hopefield, die klein dorpie, is baie besig en orals kan mens sien daar is ‘n doenigheid van mense besig om met ywer die ou geboutjies op te knap. Dit skep natuurlike goeie energie en is lekker aansteeklik. Dit lyk asof die dorpie sy vere regskud vir nog baie groot dinge. Die mense is positief en dit wys in al die bedrywighede. Bye boere, tamatie boere en groente boere is hard besig. Die komitee is bedrywig en aan die gang, want die jaarlikse blomme skou word gehou die laaste week in Augustus en dis altyd groot joligheid. Die veld is reeds bedek met die mooiste spesies blomme. Die ou museum huisves ‘n ou gordyn uit Buckingham-paleis – ja, ek weet, hoe op aarde het die gordyn in Hopefield beland. Die Fossiel park vertel van die jare toe die myne nog aan die gang was en neem jou op ontdekkingstog van gister. Hier is ‘n warmte vir mense en alhoewel hulle so bietjie van die hoof roetes af is, moet mens hulle geensins onderskat nie. Die gemeenskap is altyd meer as bereid en ywerig om al die omliggende areas aan die toeris uit te wys.
Vredenburg, ons volgende stop. “Twisfontein”, so was hy eers genoem en toe later, toe daar vrede gemaak is, herdoop na Vredenburg. Die kommersiële prutpot van die area. Hier is die groot Weskus Winkelsentrum, goed geleë tussen Saldanha en Vredenburg. In Vredenburg self, is daar oulike koffie en snuisterye winkels. Dis lekker om toeris te speel in die dorpie, want orals sien jy iets wat jou aandag trek. Almal is besig – besig en oppad êrens heen, maar het tog tyd vir ‘n glimlag. Na lekker koffie en kaaskoek by een van die koffie winkels ry ons aan na Velddrif.
Ek dink altyd aan Velddrif se mense as die sout van die aarde, warm, hartlike, egte mense sonder nonsies. Ek is bevoorreg om nou hier te bly. Die mense van Velddrif het ek leer ken as Hulle Ja is Ja en Nee is Nee en basta met tussen in. Hier weet jy waar jy staan en daar word nie tyd gemors nie. Die eerste wat ons sien toe ons oor die brug ry is die pienk flaminke, die soutfabriek en dan die bootjies gemeer teen die kant. Orals staan mense en visvang, en die dorpie is ‘n geharwar van dinge aan die gebeur. Die kunstenaars stal uit, die bokkoms hang in die laan, en sou mense stop in Bokkomlaan, is die verwaande pelikane daar met hulle arrogante stappie. Met verwondering en blydskap, sien ek alles as geheel van die juweel wat ons die Weskus noem. Dit het so in my siel kom lê soos reukwerk en deel van my hele wese geword. Ook hier staan die blommetjies spierwit soos sneeu net waar jy kyk. Die vissermanne staan reg vir die vangs van die dag.
Maar nou stop ek weer eers. Hou dop vir die tweede gedeelte van die reis.
Route